Spring na inhoud

5 OKTOBER 2022
PORTUGAL

Boek Matteus in Kabuverdianu vrygestel

Boek Matteus in Kabuverdianu vrygestel

Op 25 September 2022 het broer Mário Pinto de Oliveira, ’n lid van die Takkomitee in Portugal, Die Bybel—Die Evangelie volgens Matteus in Kabuverdianu vrygestel. Die Bybelboek is in digitale formaat vrygestel gedurende ’n spesiale vergadering wat deur middel van videoverbinding gehou is. Die program is gestroom vanaf die takkantoor in Lisbon, Portugal. Altesaam 3 812 persone het na die program gekyk, insluitende dié wat by die Koninkryksale in Kaap Verde en Portugal ingeskakel het.

Kabuverdianu is ’n Kreoolse taal wat op Portugees gebaseer is. Dit is die moedertaal van die meeste mense wat in Kaap Verde woon. Die takkantoor in Portugal hou toesig oor die predikingswerk in Kaap Verde.

Die Kabuverdianu-vertaalkantoor in Praia, Santiago, Kaap Verde

Een van die vertalers het oor hierdie nuutste Bybelvertaling gesê: “Hoewel party van die Bybelboeke alreeds in Kabuverdianu vertaal is, is dit nie maklik om in die hande te kry nie. Vir baie wat hierdie Bybel kry, sal dit die eerste keer wees dat hulle God se Woord in hulle moedertaal lees.”

’n Ander vertaler het gesê: “Hierdie Bybel is maklik om te lees, maklik om te verstaan en bevat woorde wat ons elke dag gebruik. Dit is ’n groot geskenk van Jehovah en sal ons baie help in ons predikingswerk. Ons sal nou minder tyd spandeer om woorde te verduidelik en meer daarop kan fokus om mense se harte te bereik.”

Die vrystelling van die boek Matteus in Kabuverdianu is ’n kragtige herinnering dat ons onpartydige God sy Woord beskikbaar sal maak aan almal wat na hom soek. – Handelinge 10:34, 35.