Spring na inhoud

Links na regs: Aleksei Boedentjoek, Konstantin Bazjenof, Feliks Machammadijef, Aleksei Miretski, Roman Gridasof en Gennadi German voordat hulle gearresteer is

17 FEBRUARIE 2020
RUSLAND

Tronkbewaarders slaan vyf broers in Orenburg, Rusland

Tronkbewaarders slaan vyf broers in Orenburg, Rusland

Op 6 Februarie 2020 het tronkbewaarders van Strafkolonie Nr. 1 in Orenburg, Rusland, vyf van ons broers, Aleksei Boedentjoek, Gennadi German, Roman Gridasof, Feliks Machammadijef en Aleksei Miretski, wreed geslaan met knuppels. Broer Machammadijef is hospitaal toe gestuur nadat sy rib gebreek is en sy long en nier beskadig is. Nadat die ander broers geslaan is, is hulle na ’n strafsel gestuur op grond van belaglike, valse klagtes. Een van hierdie belaglike klagtes was dat hulle sigarette gerook het ­– iets wat Jehovah se Getuies nie mag doen nie.

Soos voorheen berig is, is vyf broers saam met ’n sesde broer, Konstantin Bazjenof, op 19 September 2019 skuldig bevind deur regter Dmitri Larin van die Leninski-distrikshof in Saratof. Hulle is gevonnis tot tronkstraf wat wissel tussen twee tot drie en ’n half jaar. Op 20 Desember 2019 het die streekhof in Saratof hulle appèl verwerp. ’n Paar weke later is al ses broers tronk toe gestuur. Broer Bazjenof is na Strafkolonie Nr. 3 in die Oeljanofsk-streek gestuur. So hy was nie by toe die ander in Strafkolonie Nr. 1 gemartel is nie.

Onmiddellik nadat die vyf broers op 6 Februarie 2020 by Strafkolonie Nr. 1 aangekom het, is hulle geslaan. Hulle is eers die volgende dag deur dokters ondersoek. Daar het hulle ontdek dat broer Machammadijef ’n hoë koors het en dat daar bloed in sy urine is. Die tronkadministrasie het eers ’n ambulans gebel nadat hulle broer Machammadijef gedwing het om ’n dokument te teken wat sê dat hy “in die badkamer gegly en geval het”. Broer Machammadijef is in die hospitaal opgeneem en het ’n operasie gekry wat gehelp het om die vog op sy long te dreineer. Toetse het gewys dat broer Machammadijef ondervoed is omdat die tronkadministrasie sy spesiale kos afgevat het wat hy nodig het omdat hy seliaksiekte het.

Ons harte gaan uit na ons broers in Rusland terwyl hulle so onregverdig en wreed behandel word. Maar ons weet dat Jehovah sal aanhou om hulle te ondersteun terwyl hulle getrou bly. – Filippense 1:27, 28.