Spring na inhoud

Broer Hje-min Kim en sy vrou, Ha-bin, buite die Gwangjoe-distrikshof

7 DESEMBER 2022
SUID-KOREA

Hofsaak bevraagteken Suid-Korea se alternatiewe burgerlike diens

Hofsaak bevraagteken Suid-Korea se alternatiewe burgerlike diens

Die Gwangjoe-distrikshof in Suid-Korea sal op 8 Desember 2022 ’n verhoor hou in die saak teen broer Hje-min Kim. Hje-min is die eerste gewetensbeswaarde wat weier om alternatiewe burgerlike diens (ACS) in die land te doen omdat dit met straf vergelyk kan word. Hy kan ’n maksimum tronkvonnis van 36 maande sowel as ’n kriminele rekord kry.

Suid-Korea se alternatiewe burgerlike diens van 36 maande is een van die langste in die wêreld – amper twee keer solank as militêre diens. Gedurende hierdie periode van drie jaar word gewetensbeswaardes aangehou asof hulle onder huisarres is, in slaapsale wat in tronke is, en is hulle onder hewige beperkings. Daarom klassifiseer internasionale deskundiges Suid-Korea se alternatiewe burgerlike diens as “alternatiewe straf” in plaas daarvan dat dit werklik ’n alternatief vir militêre diens is. a

Op 28 Junie 2018 was daar ’n geskiedkundige uitspraak waarin die konstitusionele hof van Suid-Korea erken het dat die Koreaanse Grondwet die regte van gewetensbeswaardes beskerm. Toe het hulle die wetgewers wat alternatiewe burgerlike diens skend, gewaarsku: “As die straf van alternatiewe diens so lank of erg is dat mense bang is om alternatiewe diens te kies, dan sal dit teen die doel van alternatiewe diens gaan en dieselfde as ’n tronkvonnis wees. Dit sal lei tot die skending van ander fundamentele regte.”

Die internasionale standaard vir alternatiewe diens is deur die Verenigde Nasies se Kommissie oor Menseregte in 1998 in ’n resolusie vasgestel. Lande met verpligte militêre diens is daaraan herinner dat hulle gewetensbeswaardes met vorme van diens moet voorsien wat “in die belang van die publiek is en nie met straf vergelyk moet word nie”.

Dit is nie die eerste keer dat Hje-min krimineel aangekla word nie. In September 2020 het Suid-Korea se Hooggeregshof hom heeltemal vrygespreek as ’n gewetensbeswaarde teen militêre diens. Weke later het hy aansoek vir alternatiewe burgerlike diens gedoen. Hy moes tot 7 Februarie 2022 wag voordat hy daarmee kon begin. Maar nadat hy die huidige program deeglik oorweeg het en besef het dat dit soos straf is, het hy besluit om dit respekvol te weier.

As die hof ten gunste van Hje-min beslis, kan dit veroorsaak dat die regering sy alternatiewe burgerlike diens moet verander om by internasionale standaarde aan te pas. So ’n aanpassing sal die Koreaanse gemeenskap oor die algemeen baie bevoordeel asook ons broers en hulle gesinne in Suid-Korea. In tussen bid ons dat almal wat deur hierdie situasie geraak word, sal aanhou om op Jehovah te vertrou om hulle te help om te “volhard met geduld en vreugde”. – Kolossense 1:11.

a Vir meer inligting, kyk asseblief na die spesiale verslag met die titel “Alternatiewe burgerlike diens in Suid-Korea”, wat deur die Asiaties-Pasifiese Vereniging van Jehovah se Getuies voorberei is.