26 DESEMBER 2019
VENEZUELA
Spesiale predikingskampanje bereik afgesonderde gebied in Venezuela
Jehovah se Getuies het spesiaal moeite gedoen om in ’n plattelandse gebied te preek op die Guajira-skiereiland in die noordweste van Venezuela. Die kampanje het op 15 Julie 2019 begin en het op 31 Desember 2019 klaargemaak. Sowat 640 verkondigers het aan die kampanje deelgeneem en het meer as 32 000 ure gepreek, en amper 2 000 Bybelstudies is begin.
Die gebied waar die kampanje gehou is, is baie groot, vervoer is ’n probleem en baie min verkondigers woon in die gebied. As gevolg hiervan het baie van die inwoners nog nooit met Jehovah se Getuies gepraat of God se naam gehoor nie. Broers en susters het opofferings gemaak om daar te gaan preek. Venezuela het nog steeds ’n ekonomiese krisis, baie mense het nie werk nie en kos en basiese items is baie duur. Daarom het party verkondigers maande lank gespaar of besittings verkoop sodat hulle geld kan hê om deel te neem aan die kampanje.
Die broers en susters preek in Spaans en Wayúunaiki, die taal van die Wayúu, inheemse mense wat in afgesonderde gemeenskappe woon. Baie min verkondigers praat hierdie taal. Daarom het die broers wat die kampanje gereël het vir hulle Bybellektuur in Wayúunaiki gegee, sowel as opleidingsvideo’s en brosjures wat die Wayúu kultuur verduidelik. Hierdie items het die verkondigers gehelp om voor te berei vir die kampanje.
Een vrou was baie bly om die boodskap in haar taal te hoor, en daarom het sy aangebied om verkondigers te neem na ’n afgesonderde gemeenskap waar ’n paar van haar familie en vriende woon. ’n Groep verkondigers het halfvier die oggend opgestaan en na die vrou se huis gegaan. Toe het dit omtrent ’n uur gevat om tot by die gemeenskap te stap.
Toe hulle by die gemeenskap aankom, het die vrou hard uitgeroep: “Kom uit! Kom uit! Ek het God na julle toe gebring!” Die verkondigers was verbaas om te sien dat mense uit hulle huise gekom het met stoele en gesit het om na die boodskap te luister. Hulle het gesê dat dit die eerste keer is dat iemand met hulle kom praat het oor God. Hulle het toe gewys dat hulle dankbaar is deur ontbyt te maak vir al 17 verkondigers.
Die vrou wat hulle gebring het, was so bly oor die reaksie dat sy aangebied het om hulle na nog drie dorpies in die gebied te vat. In elke dorpie het sy uitgeroep sodat die mense kon kom om na die boodskap te luister. Aan die einde van die dag het die verkondigers met trane in hulle oë totsiens gesê vir die vrou en die ander mense vir wie hulle gepreek het deur vir hulle ’n Koninkrykslied in Wayúunaiki te sing.
Jehovah wil hê dat almal die Bybel se boodskap moet hoor. Spesiale predikingskampanjes, soos die een in Venezuela, wys dat Jehovah die werk van sy mense seën “wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak” aan afgesonderde gemeenskappe regoor die wêreld. – Romeine 10:14, 15.