Spring na inhoud

’n Prent van hoe die Ramapo-mediaproduksiefasiliteit in die toekoms sal lyk. Kleiner foto: Die dorp Ramapo se beplanningsraadvergadering op 28 Junie 2023

3 JULIE 2023
WÊRELDNUUS

Hoofkwartierprojek by Ramapo

Die Ramapo-bouprojek kry belangrike goedkeuring om voort te gaan

Die Ramapo-bouprojek kry belangrike goedkeuring om voort te gaan

Op 28 Junie 2023 het die Ramapo-bouprojek in New York, VSA, ’n baie belangrike goedkeuring ontvang. Al die lede van die dorpsraad van Ramapo het saamgestem om die bouplanne vir die projek goed te keur. Alhoewel daar nog ander dinge is wat gefinaliseer moet word, laat hierdie goedkeuring ons nou toe om met die projek voort te gaan.

Dit is interessant dat nie een van die plaaslike inwoners of amptenare enige besware of bekommernisse gedurende die beplanningsraadvergadering gehad het nie. Broer Keith Cady, wat op die Bouprojekkomitee (CPC) dien, het gesê: “Ons het maande lank voorberei om ons bouplanne aan die raad voor te lê en om al die nodige vereistes na te kom. Ons doel was om dit so maklik as moontlik te maak vir hulle om ons aansoek goed te keur.” Die lede van die raad het erken dat ons hard daaraan gewerk het om die vereistes na te kom, en hulle het almal saamgestem om ons aansoek goed te keur. Broer David Soto, wat ook op die Bouprojekkomitee dien, het gesê: “Die hele bespreking en om die besluit te maak, het minder as ’n uur geneem! Ons sê dankie vir die Beplanningsraad vir hulle harde en vinnige werk, sowel as hulle samewerking. Ons sien daarna uit om met die dorp se beplanningsafdeling in die toekoms te werk.”

As gevolg van hierdie goedkeuring kan daar met belangrike werk by die Ramapo-projek begin word. Broer Cady het verduidelik: “Sodra die bome wat afgekap is, van die perseel verwyder word, kan kontrakteurs met hulle werk op die bouperseel begin. Daarna sal baie meer vrywilligers aan die projek kan begin werk teen die einde van volgende jaar. Almal wat by die vergadering was, was baie opgewonde om te hoor dat ons goedkeuring ontvang het om binnekort met die werk te begin.”

As ’n wêreldwye organisasie is ons dankbaar teenoor Jehovah vir hierdie goedkeuring. Ons bid dat hy dié wat by die projek betrokke is, sal aanhou seën terwyl hulle hulle ‘gereedmaak vir die goeie werk’ wat voorlê. – Nehemia 2:18.